KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte (34) wat van verkragting beskuldig word, is Saterdagmiddag erg aangerand en sy huis is glo deur die woedende gemeenskap aan die brand gesteek.
Reaction Unit South Africa sê die voorval het in Ntombe gebeur. Die ma van ‘n meisie (15) het omstreeks 18:30 vir hulp gebel, waarna reaksiebeamptes ‘n groep mense aangetref het wat ‘n man aanrand.
Die ma van die meisie pas die man se nege maande oue baba op. Hy het by die vrou aangekom en glo vertel sy vrou is uit vir die aand en gevra of sy baba by haar kan oornag. Daarna het die meisie glo op versoek saam gestap om vir die baba benodigdhede by die verdagte se huis te gaan haal.
Rusa sê die ma van die dogter het later bekommerd geword omdat die dogter nie huis toe gekom het nie. Sy het glo ‘n familielid gevra om ondersoek in te stel, waarna sy die verdagte betrap het waar hy die meisie in sy huis verkrag. Die familielid het om hulp geroep en die gemeenskap het die verdagte begin aanrand. Die tienermeisie het aan Rusa vertel die verdagte het haar met ‘n mes gedreig om uit te trek en het haar verkrag.
‘n Woedende gemeenskap het ook die verdagte se huis aan die brand gesteek.
“Reaksiebeamptes het die man in hegtenis geneem en aan die Verulam-SAPD oorhandig.”





