
Foto: SAPD
GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola verseker Suid-Afrikaners daar sal behoorlik ondersoek ingestel word nadat 95 Libiese burgers wat glo militêre opleiding op ‘n plaas in Witrivier gekry het, gearresteer is.
Brig. Athlenda Mathe sê Masemola het die intelligensiegedrewe operasie verwelkom.
“’n Span speurders ondersoek beweerde verdagte aktiwiteite wat op die plaas plaasvind.”
Polisielede het die Libiërs gevind waar hulle in militêre tente tuisgaan. Militêre opleidingstoerusting wat gelisensieerde vuurwapens insluit, is ook gekry.
“SAPD-speurders kan nie die moontlikheid uitsluit dat die plaas, wat as ‘n veiligheidsopleidingsterrein geakkrediteer is, na bewering as ‘n onwettige militêre opleidingskamp benut word nie.”
Mathe sê die polisie werk nou met die departement van binnelandse sake saam om vas te stel hoe die Libanese burgers hulle visums bekom het.
“Genl. Masemola het vir kalmte gevra en sê hy het volle vertroue in die span wat aan hierdie sake werk. Hy het bygevoeg die polisie sal geen steen onaangeroer laat om na die kern deur te dring van watter soort aktiwiteite op die plaas plaasvind nie.”
“Tydens die operasie het die polisie ook op dagga en kokaïen beslag gelê. Van die ander dwelms word na die SAPD se forensiese wetenskaplaboratorium in Pretoria gestuur om dit as onwettige middels te identifiseer. Die veiligheid van ons burgers is van kardinale belang en die SAPD bly daartoe verbind om transnasionaal georganiseerde misdaad beslissend te hanteer,” sluit Masemola af.

Foto: SAPD





