KYK: Laurika Rauch stel na agt jaar ‘Liewe Lewe’ vry

Lees ook :

Foto: Willem Botha

Laurika Rauch, legende in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, het na agt jaar van stilte ‘n snit genaamd Liewe Lewe vrygestel.

“Ek het die voorreg van ’n baie lang loopbaan van meer as 40 jaar gehad, maar tree nou al vir
geruime tyd nie meer op nie. Ek kry egter daagliks nog versoeke vir vertonings. As dit enigsins moontlik sou wees, wou ek ’n ‘grootse gebaar’ teenoor die mense wat my en my werk nog steeds en oor soveel jare ondersteun, maak.”

Goue treffers van Laurika was onder andere skatte soos Kinders Van Die Wind, Op Blouberg Se Strand, Die Mense Wat Ek liefhet, Stuur Groete aan Mannetjies Roux, Ek Het ‘n Huisie By Die See, Vier Seisoene Kind, Die Mense Op Die Bus, Blou, Vergeet Om My Te Vergeet, en vele meer, in.

Fanie Nel van Coleske Artist Management verklap Rauch werk saam met die Coleske-Groep om ‘n versameling nuwe liedjies op te neem.

Liewe Lewe is vandag vrygestel en die res van die liedjies sal volgens beplanning teen einde November klaar vrygestel wees.

“Ek en Carien Loubser (bekende TV-vervaardiger van programme soos Die Republiek van Zoid-Afrika,
JAN en Klanke Van My Hart) het ’n ontbytkuier gehad en sy het my bekendgestel aan die liedjie
Liewe Lewe van Christi van Niekerk, ’n jong en talentvolle komponis/sanger. Ek en Arnold
Coleske, Paulo Azevedo en Juan (Floors) Oosthuizen het aan die werk gespring. Dis ’n pragtige, vars en vrolike liedjie met ’n ideale boodskap. Ek beplan om nog ’n paar liedjies van jong, maar ook gevestigde liedjieskrywers op te neem. Die versameling sal definitief ook spog met ’n paar vintage– Laurika liedjies.”

Nel sê die bekroonde sangeres erken dit is nie doelbewus dat sy nie oor die jare ’n platform vir jonger kunstenaars met samewerkings probeer skep het nie, maar sy is dankbaar as dit wel hulle loopbane gehelp het.

“Dit was Arnold Coleske se idee om Christi ook te betrek as ‘medewerkende kunstenaar’ en die toevoeging van haar stem maak ’n pragtige bydrae tot Liewe Lewe”.

Rauch, wat ander sangsterre in die Afrikaanse musiekbedryf starstruck laat, het al saam met Kurt Darren, Loki Rothman, Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en Bittereinder gewerk.

Die verhoogsangers het die weke in die ateljee as vreugdevol en opwindend bestempel: “Die hele proses is vir my regtig lekker.”

Rauch, wat volgens Nel met meer tyd tot haar beskikking, spreekwoordelik haar “huis in orde” kry, het haar toekennings, foto’s, memorabilia, musiekargief, artikels en resensies aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein geskenk.

Nina Torr, Rauch se dogter, het die vrolike skildery vir Liewe Lewe se omslag, gemaak. Dit is op ‘n foto wat op Torr se vyfdede verjaardag met ‘n bokskamera deur haar pa geneem is. Sy gaan voorts kunswerke op haar ma se liedjie-omslae laat pryk.

“Nina het vantevore al tot van my werk bygedra – haar kuns was byvoorbeeld te sien in die
boekie van Wals, Wals, Willemien en ook as die omslag van my In duet-versameling op Apple
Music. Dis vir my lekker en betekenisvol om saam met my kind te werk.”

Nel sê Rauch se vrystelling van nuwe liedjies en terugkeer tot die musiekbedryf is vir haar aanhangers en die musiekgemeenskap ‘n opwindende gebeurtenis.

“Ek kan basies nie wag nie!” sê Rauch opgewonde.

Liewe Lewe is nou hier op alle stroomdienste beskikbaar.

Krediet: Nina Torr

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief