WES-KAAP. – Deveney Nel (16), ‘n gr. 10-leerder aan Hoërskool Overberg (Caledon), van Grabouw, is aanvanklik as vermis aangemeld, maar is dood by haar skool aangetref.
Kapt. Frederick van Wyk sê aan Nuusflits die omstandighede van die meisie, wie se liggaam in ‘n stoorkamer by die skool aangetref is, word ondersoek.
Van Wyk het bevestig die polisie het ‘n moordsaak geopen wat na die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade vir ondersoek oorgeplaas sal word.
Die oorledene is Woensdag, nadat sy nie van die skool af by die huis aangekom het nie, deur haar ma by die Grabouw-polisie as vermis aangemeld.
Van Wyk sê ‘n vermistepersoonverslag is voltooi en gesirkuleer, waarna ‘n soektog deur die polisie na die meisie geloods is. Die meisie se liggaam is later deur die soekgeselskap in ‘n stoorkamer op die skoolperseel gevind. Sy is op die toneel dood verklaar. Die oorledene is as die vermiste meisie geïdentifiseer.
Enigiemand met inligting van die noodlottige insident word gevra om die ondersoekbeampte, speur.brig. Leon Hanana, by 082 522 2281 te bel.
Die skool is vandag gesluit.






