MPUMALANGA. – Twee bejaarde vroue, 71 en 74 jaar oud, is Sondagoggend omstreeks 11:45 in Delftstraat, in De Heuwel in Emalahleni oorval. Beide is deur die verdagtes gewurg. Een het oorleef, terwyl die ander een gesterf het.
Kol. Donald Mdhluli sê aan Nuusflits sake van moord en huisroof word ondersoek, maar addisionele aanklagte kan bygevoeg word.
“Twee verdagtes het die erf betree en een van die slagoffers buite oorval. Sy is gewurg en het gesterf, waarna sy met ‘n wit lap bedek is. Die verdagtes is daarna die huis binne waar die tweede slagoffer aangetref is. Selfone en kontant is geëis. Daar is probeer om haar ook te verwurg, maar sy het oorleef. Die verdagtes het kontant, juwele, selfone en huissleutels gevat. Toegang is deur ‘n hek forseer.”
Mdhluli sê die ondersoek duur voort terwyl daar na die verdagtes gesoek word.
Enigiemand met inligting word deur die polisie versoek om na vore te kom.





