GAUTENG. – ‘n Dwelmmuil (43) van Paraguay is Sondagoggend op OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Ten minste 20 kapsules met dwelms (bullets) is reeds uit die verdagte se liggaam gelaat.
Lt.kol. Amanda van Wyk sê die dwelmmuil het net van São Paulo geland toe hy deur die polisie op ORTIA onderskep is.
“‘n Mediese ondersoek het bevestig dat hy verskeie vreemde voorwerpe ingesluk het en hy het tot dusver meer as 20 bullets uitgelaat, wat vermoedelik kokaïen bevat.”
Dit bring die aantal dwelmmuile wat binne weke op ORTIA in hegtenis geneem is op 14 te staan.
“Die SAPD het die afgelope maand elke week minstens een dwelmmuil by OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer. Hierdie week alleen het die polisie drie dwelmmuile, waaronder twee Nederlandse handelaars wat met 80 kg khat gevind is, in hegtenis geneem. Vandag se arrestasie is die 14de dwelmmuil wat die afgelope weke in hegtenis geneem is.”





