Stewige vonnisse vir voormalige Clover-werknemers na moord

Lees ook :

Foto's: AfriForum Privaatvervolgingseenheid

GAUTENG. – Mohale Shokane (34) en Vusimuzi Duuba (38), voormalige Clover-werknemers, is vir die moord op Terence Tegg en Joao Jesus Cassanga, veiligheidswagte, elk twee lewenslange tronkstrafvonnisse en addisioneel ses jaar, opgelê.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die veroordeelde moordenaars is deur die Johannesburg-hooggeregshof aan moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind en gevonnis.

Nuusflits het voorheen berig op die betrokke dag van 17 Februarie 2022 het Clover-werknemers wat gestaak het, geweld gebruik en verskeie veiligheidswagte van Clover in Olifantsfontein aangeval. Tegg het dieselfde dag gesterf en Cassanga in Junie 2022. Ontstellende beeldmateriaal wys hoe die groep stakers Tegg omsingel, skop en slaan tot hy op die grond lê, waarna klippe en ander items gebruik is om sy kop inmekaar te slaan. Die aanvallers het hom toe van sy beursie, haelgeweer en ammunisie beroof. Cassanga is gejaag en oorweldig, sy kop is ingeslaan en hy is ook met sy eie haelgeweer geslaan.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nou saam met die polisie en die aanklaer gewerk om bewyse te versamel, dossiere op te stel en die saak aan die hof voor te hou. Die eenheid is deur die polisie vir hulp genader en het byna elke hofsitting bygewoon.

Foto: AfriForum adv. Gerrie Nel en Michele Bebbington

‘n Deskudige het beeldmateriaal wat deur die eenheid bekom is – ‘n video, sowel as selfoonvideo’s – geanaliseer. Klere en identifiseerbare merkers is gebruik om individue se bewegings van die dag vas te stel. Daar is uitgepluis hoe hulle die dag van die moorde by die misdade betrokke was. Die getuienis en verklarings wat die beskuldigdes by die moord betrek, kon by die dossier ingesluit word.

Barry Bateman van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê regter Thomas Mathunzi het tydens vonnisoplegging bevind die moordenaaars is “barbaars en wreedaardig.” Hy is ook van mening die lewenslange vonnisse wat opgelê is, is gepas.

“Ons sien te gereeld dat diegene wat skuldig is aan boendoegeweld, en gewelddadige betogers wat hulself skuldig maak aan moedswillige kriminaliteit ongestraf bly, ten spyte van genoegsame beeldmateriaal wat hul wandade dokumenteer. Ons hoop dat hierdie skuldigbevinding en vonnis ’n duidelike boodskap aan die publiek stuur dat om die reg in eie hande te neem ernstige gevolge het. Ons hoop ook dat dit die polisie en aanklaers oortuig dat wanneer die tyd en hulpbronne in hierdie soort sake ingeploeg word, dan sal skuldigbevindings volg. Ons het waardering vir die harde werk van die polisie se ondersoekbeampte, kapt. Robert Seckle, en die staatsaanklaer, adv. Matthews Rampyapedi.”

Michele Bebbington, Terrence Tegg se verloofde, sê: Ek dink hulle verdien dit. Jy kan nie ’n lewe neem en verwag om aan te gaan met jou eie lewe nie. Ek dink die vonnis is regverdig. Ek het meer oor die strafregstelsel geleer as wat ek vir enigiemand sal toewens. Ek het geleer dat dit nie altyd werk soos dit moet nie. In ons geval dink ek ons is gelukkig dat AfriForum betrokke was en ook kapt. Seckle wat ’n goeie werk gedoen het. Ongelukkig dink ek nie dat dit die geval is vir almal in hierdie soort omstandighede nie. Dankie aan almal wat ons tot hier gehelp het. Ek sou dit nooit op my eie kon doen nie en ek kan verstaan hoekom nie.”

Bronne: NVG en AfriForum Privaatvervolgingseenheid

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief