VRYSTAAT. – Vyf verdagtes is Maandagoggend omstreeks 05:15 met verskeie beskermde visspesies in hulle besit in die Oranjeville-area vasgetrek.

Sers. Mahlomola Kareli sê inligting is ontvang van die verdagtes wat met ‘n wit Toyota Hilux-bakkie op die Moedersdeel-plaaspad ry. Die inligting is met die duikeenheid van die polisie gedeel, waarna die pad toegemaak is. Die bakkie is opgemerk, tot stilstand gebring en deursoek.
Tydens deursoeking het die polisie op ses sakke met onwettige vangnette afgekom. Groot hoeveelhede vis – grootbek geelvis (5), kleinbek geelvis (32), baber (7), moddervis (82), karp (24) en moggelvis (611) – is gekry. Die vyf onwettige immigrante is op aanklag van die oortreding van die NEMBA-wet (Wet op Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteit) gearresteer.
Kareli sê die vyf verdagtes staan tereg op aanklagte van visvang in waters op ‘n ander manier as hengel en sonder ‘n permit, in besit wees van ‘n visnet of lokval, behalwe ‘n landingsnet of hounet wat ontwerp is vir die doel om vis wat met ‘n lyn en vishoek gevang is, land toe te bring of te hou en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteit 10/2004 art. 57 (1) – besit van ‘n bedreigde of beskermde spesie sonder ‘n permit.
Die verdagtes verskyn Woensdag in die Oranjeville-landdroshof.





