KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou (40) se baba het tydens geboorte gesterf na sy glo verskeie keer ‘n mediese fasiliteit besoek het en gehoor het sy is nie swanger nie. Meer onlangs is sy met ‘n “breuk” en medikasie huis toe gestuur.
Volgens ‘n sosialemediaplasing op KZN VIP Protection Services se Facebook-blad is Amawele Emergency Services na Silverglen in Chatsworth ontbied vir ‘n vrou wat geboorte gegee het. Die vrou het in ‘n plas bloed gelê met die liggaam van ‘n babadogtertjie, nog met die naelstring vas, langs haar. Sy het glo haar volle swangerskapstermyn deurloop. Die naelstring is geknip en die baba is dood verklaar.
Nadat die vrou die vorige nag by die hospitaal was, is sy huis toe en het in die badkamer in kraam gegaan. Tydens die kraamproses het die baba haar kop oopgeval, waarna hulp van Amawele ontbied is.
Amawele Emergency Services gee hulle samewerking aan die polisie om die insident en beweerde nalatigheid te ondersoek.
Die ma, volgens die plasing in ‘n toestand van skok, en die pa, is onder Amawele-paramedici se toesig na ‘n hospitaal geneem.





