MPUMALANGA. – Altesaam 14 beweerde ongedokumenteerde kinders is Vrydag gekeer voordat hulle Suid-Afrika per minibustaxi vanaf Mosambiek, deur die Lebombo-grenspos, kon binnekom.
Dr. Michale Masiapato, die kommissaris van die grensbestuursowerheid (BMA), sê grenswagte het die minibustaxi wat probeer het om die Mosambiekse kinders, tussen vier en 16 jaar oud, die land in te smokkel, onderskep.
Die taxibestuurder is op aanklag van die verleen van bystand tot onwettige toegang ingevolge die immigrasiewet gearresteer. Die kinders wat gered is, is vir sorg en ondersteuning aan die departement van maatskaplike ontwikkeling oorhandig.
Tydens ‘n afsonderlike insident is altesaam agt Bangladesji-burgers by die Beitbrug-grenspos voorgekeer, voordat hulle die land onwettig sonder reisdokumente kon binnekom. Die persone is deur ‘n minibustaxi naby die grenspos afelaai, maar is deur grenswagte gearresteer.





