WES-KAAP. – Cornelius van Dalen, die 40-jarige man wat Dinsdag tydens ’n gewapende konfrontasie met die polisie in Robertson doodgeskiet is, het kort voor die skietery ’n plasing op Facebook gemaak. Hy het daarin beweer het dat korrupte polisiebeamptes en bendes hom probeer vermoor.
Van Dalen het Sondag 16 Augustus op die Facebook-blad Boland Dorpe beweer hy word geteiken omdat hy na bewering korrupsie en bedrywighede van dwelmkartelle en bendes blootgelê het. Hy het verder beweer dat daar verskeie pogings was om hom te intimideer en aan te val. Die plasing is gemaak voordat ’n gewapende konfrontasie Dinsdag tussen Van Dalen en polisiebeamptes in Robertson ontstaan het. Volgens die polisie is hy deur die spesiale taakmag doodgeskiet, nadat plaaslike polisiebeamptes onder skoot gekom het.
Die polisie het gister gesê twee vroue wat in ’n naburige huis was, is veilig tydens die operasie ontruim. ’n Polisievoertuig is ook in die skietery beskadig, terwyl ’n polisielid beseer is.






