VRYSTAAT. – ’n 50-jarige man sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van verkragting van sy 54-jarige sangoma-vrou by hul huis in Refeng-kgotso in die Zastron-landdroshof verskyn. Die voorval het plaasgevind in Nasionale Vrouemaand, wanneer die aandag gevestig word op geweld teen vroue en die beskerming van hul regte.
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê die vrou het beweer dat sy Vrydag omstreeks 02:00 by die huis in Refeng-kgotso met haar kliënte besig was. Haar man het haar genader en daarop aangedring om intiem te wees, maar sy het geweier omdat sy besig was. Die man het haar na bewering gegryp en met geweld in ’n kamer sonder haar toestemming verkrag het.
Die vrou het Dinsdagoggend besluit om die voorval aan te meld. ’n Saak van verkragting is geopen en word deur die Smitfield-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.




