Waarskuwing! Foto aan onderkant van berig kan lesers ontstel.
WES-KAAP. – DBV-inspekteurs het met ‘n besoek aan ‘n perseel in Pelican Park diere in onmenslike toestande aangetref. Hulle het met ‘n lasbrief teruggekeer, waarna ‘n verbrande hond ontdek is en die eienaar gearresteer is.
Die Kaap die Goeie Hoop se DBV sê die eienaar is herhaaldelik oor die welstand van diere op die perseel gewaarsku. Die perseel, wat as ‘n skrootwerf beskryf is, was ‘n uitdaging vir die inspekteurs wat deur nou spasies moes kruip waar diere in uiterste hitte sonder water aangetref is.
‘n Lasbrief is bekom en is op 19 Desember deur hoofinspekteur Jaco Pieterse en inspekteur Jeffrey Mini uitgevoer. Op die betrokke dag is diere van die perseel verwyder, maar die hond was nêrens te sien nie. Die eienaar het beweer die hond is verskuif, maar oorblyfsels van ‘n brand is opgemerk waar die hond voorheen aan ‘n ketting gehou was. Tydens ‘n soektog is daar op die verbrande hond, in ‘n kombers, nog steeds aan die ketting, in ‘n oop veld afgekom.
Die eienaar is gearresteer en het Maandag in die hof verskyn.






