GAUTENG. – Die omstrede Louis Liebenberg het op 22 Desember ‘n telefoonoproep van amper 24 minute deur Corné du Preez aan sy sogenaamde JV-vennote uit die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria gemaak. Hy vra geld vir regskostes en om “terug te kan baklei” en gee bankbesonderhede vir inbetalings.
Die oproep kom presies twee maande na Liebenberg en sy vrou se inhegtenisneming. Hy laat blyk dat dit met hom goed gaan, maar minder goed met Dezzi Liebenberg. Louis sê Dezzi se saak, wat vroeg in Januarie sal voorkom, kan ongeveer R700 000 in borg- en regskostes beloop. Hy vra ook dat Dezzi, wat op 26 Desember verjaar en nie deur haar mense bygestaan word nie, ondersteun moet word.
Tydens die oproep beskuldig hy onder meer die Valke en ander individue van onderduimsheid en beweer die weiering van Dezzi se borg is om hom by te kom.
Louis wil geld hê om hulle regsake te betaal en stel aan JV-vennote voor, om 5% van die geld wat hulle ingesit het, by te dra. Hy sê voorts die fokus is om ‘n likwidasie-aansoek teen Westcoast Resources te bring wat glo kontrakbreuk gepleeg het. Hy wil ook Dezzi se borg verseker, teen likwidasie appelleer en die myn laat heropen. Indien dit nie gaan gebeur nie, voorspel hy dat diegene wat baat gevind het by uitbetalings, die geld sal moet terugbetaal en bates verloor. Volgens hom is sy fokus om geld te genereer om te kan terugbaklei, al is dit met sy rug teen ‘n tronkselmuur.
Die Liebenberg-egpaar en nog beskuldigdes wat van onder meer bedrog en geldwassery beskuldig word, bring hulle eerste Kerstyd sonder die weelde waaraan hule gewoond is, in tronke deur. Hulle medebeskuldigdes het almal borg gekry.
Liebenberg sluit die gesprek af met: “Ons sal die oorwinning smaak, voorwaarts.”





