KWAZULU-NATAL. – ‘n Man wat Donderdagoggend van ‘n brug in Phoenix gespring het om van twee aanvallers te ontvlug, is boonop beroof voor hy gesterf het.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het ooggetuies vertel die man was onderweg om werk te soek, toe twee verdagtes hom oorval het. Hy het na bewering in ‘n poging om te ontsnap, losgeruk en van die brug tot op die treinspoor gespring.
Werkers op die treinspoor het hom omstreeks 07:30 aangetref. Hy het vertel hy is van sy skoene en ander waardevolle items beroof nadat hy van die brug af gespring het. Aangesien hy kritiek beseer was, kon hy nie keer nie.
Die man het gesterf voordat paramedici by hom kon uitkom.





