WES-KAAP. – ‘n Seun (5) het Vrydagaand omstreeks 22:30 in ‘n skietinsident in Happinessstraat, Wesbank, gesterf. ‘n Volwasse man (30) is gewond.
Titanium Securitas Medical Response is vir hulp na die toneel ontbied. Die seun is egter met aankoms op die toneel dood verklaar. ‘n Man is met ernstige beserings op die toneel aangetref en is eers behandel, alvorens hy vir verdere behandeling na ‘n hospitaal vervoer is.
AO Joseph Swartbooi sê aan Nuusflits speurders van die teenbende-eenheid volg leidrade op om diegene te arresteer wat vir die dood van die minderjarige en die poging tot moord van die volwassene verantwoordelik is. Swartbooi sê die verdagtes het na die huis waarin die seun en man was, geskiet. Die verdagtes het van die toneel gevlug en nog geen arrestasies is gemaak nie.
Mfuleni-polisie het sake van moord en poging tot moord geopen. Die motief vir die insident is deel van die ondersoek.
Enigiemand wat relevante inligting het, word gevra om die polisie te kontak.





