GAUTENG. – ‘n Range Rover met sewe insittendes, waaronder vier kinders, was Vrydag op die R101 en Saxby-pad, Centurion, in ‘n ongeluk, waarna die voertuig in vlamme uitgebars het.
Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits ‘n klagte van die ongeluk is omstreeks 17:50 ontvang. Met aankoms op die toneel is verskeie ambulansdienste se personeel, wat besig was om beseerdes te behandel, aangetref. Vier kinders wat ernstig beseer is, is na die Unitas-hospitaal vervoer. Al sewe insittendes van die Range Rover het beserings opgedoen.
Van Dyk bevestig die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur.
Volgens Dean Navagnaslater, ‘n paramedikus, het die voertuig ‘n boom getref. ‘n Kleuter (1) het as gevolg van beserings wat opgedoen is, gesterf, terwyl die Rekord berig nog drie kinders het kritieke beserings opgedoen.





