GAUTENG. – ‘n Brasiliaanse man (24) en ‘n vrou van Suid-Afrika (51) is Donderdag op OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek toe hulle op dieselfde vlug van São Paulo vanuit Brasilië in die land aangekom het. Die verdagtes is glo met dwelmmiddels ter waarde van meer as R1 m. betrap.
Lt.kol. Amanda van Wyk sê ‘n mediese ondersoek het bevestig beide die verdagtes het “koeëls” wat vermoedelik kokaïen bevat, gesluk. Die proses om die “koeëls” uit te laat, is begin en wanneer dit voltooi is, sal die finale hoeveelheid en waarde van die dwelms bepaal kan word. Van Wyk sê daar is op nog kokaïen, versteek in die verdagtes se bagasie, afgekom. Ondersoek word gedoen om vas te stel om die twee verdagtes met mekaar verbind is.
Vrydag is op ‘n verdere besending, vermoedelik heroïen, ter waarde van meer as R200 000, wat glo onderweg na Londen in die VK was, beslag gelê.
Van Wyk bevestig daar is sedert Januarie reeds vyf beweerde dwelmmuile op Ortia gearresteer.





