Geskryf deur Tiaan Booyens vir Bybel-Media
“Ek het al vantevore ’n testament opgestel, moet ek my testament opdateer? Dit behoort steeds reg te wees, nè?”
Tensy daar merkwaardige veranderinge in jou lewe intussen gebeur het, kan dié stelling dalk waar wees. Vir die meeste van ons, is dit egter nie die geval nie. Veral wanneer jy keer op keer sien hoe drasties jou lewe in een jaar van rigting kan swaai. So, moet jy jou testament opdateer?
Dit is goed dat jy wel reeds ’n testament het. Dit beteken dat jy al bewus is van die belangrikheid om jou erflating te bestuur – vanaf jou papierwerk in orde te kry tot en met die groot besluite oor die dinge wat jou na aan die hart lê, sowel as die gróót gesprekke tussen jou en jou naastes.
Lees ook: Wat is die verskil tussen ’n boedel en ’n testament – en ’n trust?
Hoe kan ek my testament opdateer?
Daar is gevalle waar die formele opdatering van jou testament nie noodwendig nodig is nie. Dit kan byvoorbeeld wees as jy besluit om iets later by te las, jou wense oor die bereddering van jou boedel onder sekere omstandighede te verander, of selfs net om ’n laaste woord aan jou erfgename weer te gee. Hierdie toevoegings kan alles aan die oorspronklike testament gebring word deur ’n kodisil of lewende testament.
Wat is ’n kodisil in ’n testament?
’n Kodisil is ’n bylae of aanhangsel tot ’n bestaande testament om dit te wysig of aan te vul. Dit word gewoonlik gebruik wanneer daar dinge by jou testament gevoeg word of wanneer daar klein veranderings gemaak word. Jy kan Bybel-Media se eie kodisil hieronder aflaai.
Laai Bybel-Media se kodisil templaat af
Wat is ’n lewende testament?
Dié dokument, wat ook ’n gevorderde gesondheidsorgvoorskrif genoem word, behels onder andere gewoonlik jou wense met betrekking tot mediese keuses, soos lewensonderhoudende behandeling. Hier kan jy ook stipuleer of jy begrawe of veras moet word, asook waar jy begrawe of jou as gestrooi moet word. Indien jy as ’n orgaanskenker geregistreer is, kan jy dit hier aandui.
Bybel-Media se Lewenslêer bevat ’n omvattende gids oor hoe om jou eie lewende testament op te stel en ander belangrike dokumente op datum te kry. Vind meer uit oor dié nuttige hulpbron deur hier te klik.
Laai Bybel-Media se Lewensleêr af
Ander spesiale bevelle of wense kan aan ’n prokureur of die eksekuteur van jou boedel deurgegee word. Daar is egter gevalle waar jy daarby sal baat om jou testament heeltemal te vernuwe en van voor af op te stel.
As jy nog nooit vantevore ’n testament opgestel het nie, moenie vrees nie! Ons verduidelik alles wat jy nodig het en alles waaroor jy moet besluit wanneer jy vir die eerste keer daarmee begin. Dit mag dalk oorweldigend wees, maar dit hoef nie ’n ingewikkelde proses te wees nie.
Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





