OOS-KAAP. – ‘n Vrou (33) is Saterdagaand omstreeks 21:00 deur die venster van ‘n huis in haar dy geskiet toe ongeveer 200 stuks vee by ‘n opstal in Lower Tyirha gesteel is.
Kapt. Welile Matyolo sê die polisie ondersoek sake van poging tot moord en veediefstal. Terwyl die beweerde diewe met die skape van die kraal af weggery het, het hulle deur die venster geskiet. Die gewonde vrou is vir mediese behandeling eers na ‘n nabygeleë kliniek en daarna na ‘n hospitaal geneem.
Tydens die ondersoek Saterdagaand kon die polisie slegs een skaap opspoor. Sondag om 12:00 het die polisie egter ‘n wenk ontvang van die skape wat in Bhelekence naby ‘n rivier opgemerk is. Hulle het 145 lewendige skape en nog 24 dooie skape aangetref waar hulle in ‘n steil rivierloop weggesteek was.
Matyolo sê nog geen arrestasies is gemaak nie en die ondersoek duur voort. Enigiemand met relevante inligting oor die misdaad word gevra om speur.kapt. Mteteleli Nongcawula, Qumbu-speurtakbevelvoerder, by 071 037 1863 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





