LIMPOPO. – ‘n Ouma (43) is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, nadat sy haar kleinseun (4) wat ‘n probleem met bednatmaak het, gedurende 2023 herhaaldelik met ‘n stok geslaan en sy geslagsdeel probeer sny het.
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die NVG, sê die ouma van Botlokwa is vir aanranding met die doel om ernstig te beseer deur die Morebeng-streekhof verhoor en gevonnis. Die ouma het in die hof onskuldig gepleit, maar bure en die ouma se gewese kêrel het getuienis in die hof gelewer, wat tot haar skuldigbevinding gelei het. Die kleuter het beserings aan sy lyf en gesig opgedoen toe hy met die stok geslaan is. Sy ouma het voorts ook probeer om sy geslagsdeel te sny “om die bednatmaak-probleem te probeer stopsit”. Bekommerde bure en haar gewese kêrel het die insidente by die polisie gerapporteer, waarna die ouma in hegtenis geneem is.
Staatsadvokaat Andrew Kgatla het ter verswaring van die vonnis die brutaliteit van die ouma se dade beklemtoon en gesê die kleuterseun het lewenslange trauma opgedoen. Die kleuter, wat versorg moes word, het gedurig in vrees gelewe.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





