VSA. – Tracey Nix van Florida is pas lig gevonnis nadat Uriel Schock (7 mnde.) op 1 November 2022 gesterf het nadat sy deur haar ouma in erge hitte in Hardee County in ‘n motor vergeet is. Uriel se boetie, Ezra, het ook maande tevore in Nix se sorg gesterf.
Nix, ‘n voormalige skoolhoof, wat op die betrokke dag na die babadogter gekyk het, is Donderdag, meer as twee jaar na die insident, tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Sy is met die baba uit om vriende vir middagete te ontmoet en het volgens haar “letterlik van die baba vergeet” toe sy tuiskom. Die ouma is omstreeks 14:00 die huis in, het met haar hond gesels en lank op haar klavier geoefen. Omstreeks 17:00 het sy onthou haar kleindogter is nog in die motor. Die baba se oupa, het tevergeefs KPR toegepas, maar Uriel het weens hipertermie gesterf.
Minder as ‘n jaar vantevore het Ezra uit die huis gestap, is onder ‘n heining deur en het in ‘n dam verdrink terwyl sy ouma aan die slaap was.
Nix is skuldig bevind omdat sy ‘n kind sonder toesig in ‘n motorvoertuig gelos het. Sy is egter aan verswarende manslag onskuldig bevind. Tydens die vonnisoplegging het die kinders se ouers oor hulle verlies en hartseer oor die vonnis gepraat, wat op Court TV gesien kan word.
“I still love you. I hate this. I hate that I have to choose, but you know I had to. But it doesn’t change my heart,” het Kaila Nix Schock, die kinders se ma, gesê.


Bronne: Fox News, Kaila Nix Schock, Court TV WJTV, Reddit en ABC Action News
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





