MPUMALANGA. – ’n Verdagte (35) is in hegtenis geneem ná ’n ’n sekuriteitswag Vrydagaand by die Riverside Mall in Nelspruit doodgeskiet is.
Brig. Donald Mdhluli sê volgens die voorlopige ondersoek het sekuriteitswagte omstreeks 22:40 drie verdagte mans naby die mall opgemerk. Toe een van die wagte die mans vir ondervraging nader, het ’n konfrontasie ontstaan, waartydens een van die verdagtes die wag in die kop geskiet het. Addisionele veiligheidsbeamptes het op die toneel aangekom, waartydens ’n skietgeveg uitgebreek het. Die gewonde verdagte het op die dak van die mall gaan wegkruip. Die polisie is ontbied, waarna hy vroeg Saterdag opgespoor en uit sy skuilplek gehaal is.
Tydens inhegtenisneming is ’n AK-47-aanvalsgeweer in die verdagte se besit gevind, wat ballisties getoets sal word om vas te stel of dit voorheen in misdade gebruik is. Ammunisie en patroondoppies is op die toneel deur die polisie gekonfiskeer. Die polisie werk saam met die departement van binnelandse sake om die verdagte se status te verifieer.
Brig. Mdhluli bevestig die gewonde verdagte ontvang mediese behandeling onder polisiebewaking. Hy staan op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van ’n onwettige vuurwapen met ammunisie tereg. Verdere aanklagte kan moontlik soos wat die ondersoek vorder, bygevoeg word.
Die ander twee verdagtes is steeds voortvlugtig.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





