LIMPOPO. – ’n Voormalige onderwyser (58), wat vir die verkragting van ‘n meisie (13) aangekla is, se borgtog is deur die Mankweng-landdroshof geweier.
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê die name van die kind, skool en beskuldigde word weerhou om sekondêre viktimisasie te voorkom. Nadat die kind die verkragting by die skoolhoof aangemeld het, het hy dadelik die polisie in kennis gestel. Toe die polisie by die skool aankom, het die beskuldigde van die perseel gevlug. Hy het vir drie dae lank arrestasie ontduik, waarna hy op 31 Maart in hegtenis geneem is.
Tydens die borgtogaansoek-uitspraak het die hof opgemerk die staat het ’n sterk saak en dat daar ’n waarskynlikheid bestaan dat die beskuldigde staatsgetuies kan probeer beïnvloed, aangesien hy reeds mense gestuur het om namens hom verskoning aan te bied. Boonop word hy as ‘n vlugrisiko gesien, aangesien hy vir dae arrestasie ontduik het. Die veiligheid van die beskuldigde is ook in ag geneem, aangesien sy vrylating openbare wanorde kan veroorsaak. Hy kon ook nie tydens sy borgtogaansoek buitengewone omstandighede vir sy vrylating bewys, of dat dit in die belang van geregtigheid is nie. Sy borgtog is op grond hiervan van die hand gewys.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 20 Junie uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





