LIMPOPO. – Nog ses voertuigbestuurders is Sondag vir beweerde poging tot omkopery deur lede van die Nasionale Verkeerspolisie gearresteer.
Dit bring die totaal motoriste wat onlangs in die Limpopo-provinsie vir omkopery in hegtenis geneem is op nege te staan. Tydens ‘n verskerpte wetstoepassingsoperasie oor twee dae (25 en 26 April) is altesaam 170 persone in die provinsie op verskeie aanklagte in hegtenis geneem.
Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sê in ‘n verklaring ‘n man (33) het ‘n verkeersbeampte glo R200 aangebied om hom te oortuig om hom nie vir beweerde dronkbestuur te arresteer nie. Hy is in hegtenis geneem en by die Mahwelereng-polisiestasie aangehou.
Onder die 170 gearresteerdes is ’n taxibestuurder van Tembisa wat passasiers na die provinsie vervoer het. Hy is gearresteer nadat hy op ’n sperstreep op ’n draai verbygesteek het en is glo onder die invloed van alkohol gevind. Hy het die wettige perk van 0,10mg/l vir professionele bestuurders met ’n lesing van 0,41mg/l oorskry en het ‘n verkeersbeampte R200 aangebied om nie gearresteer te word nie. Addisionele aanklagte van omkopery is teen die verdagte gevoeg.
Volgens die verklaring sal verkeersbeamptes voortgaan met verskerpte dronkbestuuroperasies. Motoriste word gewaarsku om nie aan die onetiese gedrag van omkopery deel te neem nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





