WES-KAAP. – Eben Basson en Chivargo Fredericks is vir die moord op Emaan Solomons (7) effektief tot 35 jaar direkte tronkstraf in die Kaapstad-hooggeregshof gevonnis, nadat die hof van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf afgewyk het. Die beskuldigdes is op 11 Februarie op die aanklagtes teen hulle skuldig bevind.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê in ‘n verklaring John Ryneveld, die senior staatsadvokaat in die saak, het die hof versoek om die bendelede van die Junky Funky Kids (JFKs) lewenslange tronkstraf vir Solomons se moord en langtermyn direkte tronkstraf vir elk van die pogings tot moord op Anees Davis, Marco Simon, Michael Daniels en Oscar Daniels, asook vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, op te lê.
Regter Gayaat Da Silva Salie het egter die beskuldigdes tot 22 jaar direkte tronkstraf vir die moord gevonnis, nadat sy in ag geneem het dat hulle eerste oortreders is en reeds vyf jaar, terwyl die saak verhoor is, in aanhouding was. Hulle is ook elk tot 5 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir elke poging tot moord, met die opdrag dat die vonnisse gelyktydig uitgedien moet word. Vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie is hulle effektief tot 8 jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Ryneveld het tydens die verhoor getuienis gelei dat die oorledene op die middag van 25 Februarie 2020 ná skool saam met haar vriende in Libraweg, ‘n doodloopstraat in Ocean View, naby haar huis gespeel het. Volwassenes het in ‘n voertuig gesit toe skote afgevuur is. Die kinders en volwassenes het in verskillende rigtings gevlug. Die oorledene het tot in die erf van haar huis gevorder, maar het in die voortuin ineengestort. Haar ma het haar met ‘n koeëlwond in die rug, wat deur haar bors uitgegaan het, asook met ‘n wond aan haar linkerhand, aangetref. Sy is na ‘n plaaslike hospitaal geneem, maar by aankoms dood verklaar.
Die beskuldigdes is positief geïdentifiseer as die persone wat Anees Davis, ‘n lid van die Taylor Gang (TG), daardie middag agternagesit en op hom geskiet het. Die JFK’s en die TG’s is aktief in die Ocean View-omgewing en is betrokke in grondgebiedoorloë oor die dwelmbedryf. Fredericks is dieselfde aand in hegtenis geneem en Basson die volgende oggend. Davis is ook in hegtenis geneem, maar later vrygelaat omdat hy nie aan die saak gekoppel kon word nie. Sers. Mentjies, die ondersoekbeampte van die teen-bende-eenheid, het die vuurwapen wat tydens die misdaad gebruik is, ná ‘n wenk dat dit by ‘n bekende JFK-huis is, by Alphaweg 65, in Ocean View, opgespoor.
Da Silva Salie het in haar uitspraak gesê bendegeweld vir die beheer van dwelms en gebied is ‘n vorm van binnelandse terrorisme in sy mees vernietigende vorm, wat gesinne verpletter en gemeenskappe van hul reg op ‘n vreedsame lewe ontneem.
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





