KAAPSTAD. – Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het die bomdreigement wat aan die Al-Azhar-moskee in Distrik Ses gestuur is, veroordeel.
Lees ook: Bomdreigement teen moskee in Kaapstad gemaak
Hill-Lewis het gesê sy kantoor is in kontak met die SAPD, wat bevestig het hulle ondersoek ’n saak van intimidasie aangaande die bomdreigement. Hy het gesê hy veroordeel die motief agter die dreigboodskap en dat Kaapstad ’n stad is met mense wat lief is vir vrede, “waar verskille in geloof en opinie hard en vol uitgedruk word, maar altyd vreedsaam”.
Hill-Lewis het gesê alle geloofsgemeenskappe moet saamstaan in die veroordeling van sulke aksies en hulle platforms gebruik om verdraagsaamheid te predik.
Hy het gesê dit is die tweede onaanvaarbare voorval van dié aard, na ’n ploftoestel in Desember 2024 by ’n Joodse gemeenskapsentrum oor die voorste muur gegooi is. Hill-Lewis het gesê die SAPD moet hierdie ondersoeke prioritiseer om seker te maak diegene wat daarvoor verantwoordelik is, word tot geregtigheid gebring.
Bron: Media Office, City of Cape Town





