NOORD-KAAP. – Die polisie het twee verdagtes onderskeidelik Maandag en Dinsdag in hegtenis geneem in verband met ‘n huisroof wat op 30 April omstreeks 04:00 op ‘n kleinhoewe in Leerkrans, Upington, plaasgevind het. ‘n Bejaarde man (78) is tydens die insident met ‘n sekel aangerand.
Die Upington-polisie het Maandag ‘n man (30) gearresteer en Dinsdag inligting opgevolg, waarna ‘n man (31) op ‘n plaas naby Leerkrans vasgetrek is. Twee verdagtes het toegang tot die perseel van ‘n bejaarde verkry, hom met ‘n sekel aangerand en met huishoudelike items en persoonlike besittings van die toneel gevlug. Die slagoffer het geringe beserings opgedoen. Die polisie het die meeste van die gesteelde goedere teruggevind.
Beide verdagtes sal binnekort op ‘n aanklag van huisroof in die Upington-landdroshof voorkom.
Volgens lt.kol. Sergio Kock duur die ondersoek voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





