Het jy al ooit opgemerk dat byna elke boek, fliek en storie dieselfde patroon volg? As daar een bestaan wat nie daaraan voldoen nie, het ek dit nog nie raakgeloop nie!
Elke storie bestaan uit drie basiese dele: die begin, die middel en die einde. Jy lag dalk nou en dink enige mens sou dit kon raai. Maar kom ek wys jou hoekom hierdie eenvoudige struktuur so belangrik is – en hoe skrywers daaroor praat:
1. Die begin (“Opstel”)
In hierdie eerste deel stel ons die hoofkarakters voor: hul wêreld, hul gewoontes, hul lewensomstandighede – en, die belangrikste van alles, ons sien iets in hul wêreld wat móét verander. Ons ontmoet ‘n karakter met ‘n groot probleem of ‘n groot leemte in sy of haar lewe.
2. Die middel (“Reis en Konflik”)
Die karakter word gekonfronteer met nuwe uitdagings of betree ‘n nuwe wêreld. Dinge raak rof, morsig en ingewikkeld. Ná elke struikelblok en elke beproewing word die karakter meer gevorm, sterker, wyser – of soms eers gebreek – totdat die reis sy klimaks bereik.
3. Die einde (“Resolusie”)
Uiteindelik, deur al die konflik en groei, kom die karakter aan die ander kant uit- verander, gevorm. Die gemors is opgeruim, die probleme oorkom, en ‘n nuwe seisoen breek aan.
Dis nogal ‘n oulike manier om na stories te kyk, nie waar nie? En die mooiste is: hierdie patroon geld nie net vir fiksie nie, maar vir die lewe self.
Daar is ‘n wyse sêding: “Die lewe is soos ‘n boek, en jy is die hoofkarakter.”
Elke mens se storie is uniek. Nie net jy as individu se storie nie, maar ook die hele reis wat jy tot dusver gestap het. Onder miljarde mense wat al ooit geleef het of nog gaan leef, sal niemand presies jou storie hê nie. Jy is werklik enig in jou soort!
Nou dink bietjie hieraan: As jy hierdie naweek ‘n fliek kyk, hoe sou jy dit geniet het as die hele storie van begin tot einde net… plat bly? Geen uitdagings nie, geen groei nie, geen oorwinnings of nederlae nie. Net ‘n monotone lyn van eentonigheid. Ek kan jou waarborg: jy sou gou verveeld wees en iets anders soek om te kyk.
En tog leef baie van ons asof ons in só ‘n fliek wil wees – vreesbevange vir verandering, huiwerig vir probleme, en altyd op soek na gemak. Maar die waarheid is: sonder konflik en verandering is daar geen groei nie.
Dalk trek jy eendag na ‘n onbekende dorpie of ‘n groot stad. Dalk kry jy ‘n nuwe werk of verloor jou werk. Miskien kry jy ‘n pap wiel langs die pad. Groot of klein, hierdie oomblikke is nie “foute” in jou storie nie; hulle is die boublokke van jou karakter.
Leer daaruit. Groei daardeur. Geniet selfs die proses, waar jy kan. En eendag, wanneer jy terugkyk, sal jy ‘n storie hê wat die moeite werd was om te vertel – aan jou kinders, jou kleinkinders, of sommer net vir jouself.
Spreuke 3:5–6: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”
Moenie bang wees vir die volgende hoofstuk nie – jou Skrywer weet presies wat Hy doen.





