KWAZULU-NATAL. – ’n 22-jarige man word steeds vermis nadat hy Donderdagmiddag deur sterk seestrome die see ingetrek is naby Southbroom aan die Suidkus van KwaZulu-Natal. Die voorval het plaasgevind nadat hy, wat na bewering instandhoudingswerk by ’n getypoel gedoen het, besluit het om tydens laaggety te gaan swem.
Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het John Nicholas, bevelvoerder van die NSRI se Port Edward-stasie, bevestig dat beide dié stasie en die Shelly Beach-stasie omstreeks 12:00 deur Wolf Security en GP Security van ’n moontlike verdrinking ingelig is.
‘n Groot reddingsoperasie is onmiddellik van stapel gestuur. Reddingswemmers, ‘n reddingsvaartuig van die verskeie basisse, ‘n lewensreddertoesighouer van Link Connect, asook die SAPD se waterpolisie en K9, Ray Nkonyeni-wetstoepassers, sowel as brand-en-reddingsdienste, asook Maser Security is na die toneel ontplooi. Kollegas van die vermiste man, branderplankryers en omstanders het probeer om hom in die branders te bereik, maar hy het onder die water verdwyn.
Reddingswerkers het die kuslyn vanaf hoë uitkykpunte gefynkam, terwyl die NSRI-reddingsvaartuig die brandersone en omliggende seegebied deursoek het. Die polisie het ook ’n hommeltuig ingespan.
Ten spyte van ’n omvattende see-, lug- en kuslynsoektog is daar steeds geen teken van die vermiste man nie. Daar word steeds deur die polisie voortgegaan met soekpogings.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





