OOS-KAAP. – Moses Gqesha (45) is agt keer lewenslank op agt aanklagte van verkragting, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, 10 jaar vir ontvoering, vyf jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en vier jaar vir diefstal, vir misdade teen Andisiwe “Andy” Kawa, deur die Gqeberha-hooggeregshof opgelê.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê Kawa het op 9 Desember 2010 op King’s Beach in Summerstrand gaan stap toe sy Gqesha opgemerk het wat verdag optree. Sy het hom eers vir ‘n oomblik uit die oog verloor, toe hy skielik weer verskyn het en haar agternagesit het. Hy het haar aangerand, en met ‘n mes en ‘n gebreekte bierbottel gedreig, waarna sy van waardevolle items insluitend ’n diamant-ring, sonbril en selfoon, beroof is. Kawa is daarna na ’n afgesonderde plek gedwing waar sy herhaaldelik deur die nag verkrag is. Die sakevrou het die aanval op haar oorleef en die volgende oggend aan haar aanvaller ontkom en die misdade by die polisie aangemeld het. ’n Mediese ondersoek is uitgevoer en forensiese monsters is geneem.
Gqesha is eers in 2020 in hegtenis geneem na hy met ‘n gesteelde grassnyer betrap is. DNS-toetsuitslae het hom aan die verkragting van 10 jaar tevore verbind. Gqesha is eers in 2024 aangekeer.
Kawa het as suksesvolle sakevrou in die korporatiewe wêreld in SA, die VSA en die VK in die nywerheids-, mynbou en finansiële sektor gewerk. Sy het haar as ‘n menseregte-aktivis en uitgesproke kampvegter teen geslagsgebaseerde geweld beywer deur die Kwanele-Enuf-stigting op die been te bring. Kwanele, Enough!, ’n persoonlike memoire wat haar stryd teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitlig in haar poging om geregtigheid vir vroue te verkry, het uit haar pen verskyn.
Ismat Cerfontein, die senior staatsadvokaat het die erns van die misdade en die langdurige trauma van Kawa tydens haar betoog vir ’n gepaste vonnis uitgelig. Sy het die vooraf beplande en gewelddadige aard van die misdade beklemtoon, asook Gqesha se vorige veroordelings vir huisbraak, diefstal en die besit van dwelms wat tot 1993 terugdateer. Ten spyte van oorweldigende forensiese en getuienisgronde, het Gqesha alle aanklagte ontken, behalwe vir diefstal, waarvoor hy skuld erken het. Die hof het sy weergawe onwaar bevind en hom aan al twaalf aanklagte skuldig bevind.
Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap, het die vonnis verwelkom. Hy beklemtoon die Nasionale Vervolgingsgesag is vasberade om oortreders aanspreeklik te hou en slagoffers van sulke gruwelike misdade te ondersteun.
AO Majola Nkohli sê genl.maj. Thaniswa Kupiso, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die swaar vonnis verwelkom. Al die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en Gqesha se naam sal ook in die nasionale register vir seksuele misdade aangebring word.
Kupiso het die ondersoekwerk van speur.AO Thabang Shilajoe van die Gqeberha GKS-eenheid en Ismat Cerfontein, die staadsadvokaat, vir die suksesvolle vonnis geprys en sê: “Hierdie vonnis is ‘n beslissende oorwinning vir die slagoffer, wat vernedering aan die hande van ‘n gewetenlose misdadiger moes verduur. Al versterk hierdie uitkoms die idee van geregtigheid, moet ons onthou dat ontelbare slagoffers van geslagsgebaseerde geweld steeds in stilte ly. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens bly daartoe verbind om te verseker dat oortreders van sulke misdade tot verantwoording geroep word.”
Bronne: The Aspen Institute, NB Uitgewers, SAPD en NVG
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





