OOS-KAAP. – Drie persone is dood en twee is gewond toe twee gewapende mans omstreeks 19:30 Donderdagaand vyf familielede by Mangweni in Ngcobo in hulle huis aangeval en geskiet het. Die polisie soek tans na die twee gewapende verdagtes.
AO Majola Nkohli sê genl.maj. Thandiswa Kupiso, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het ’n beroep op die gemeenskap van Dalasile en omliggende gebiede gedoen om die polisie met inligting by te staan, wat kan help om die verdagtes in ’n massaskietery op te spoor. Die familielede het oor die dood van ’n familielid getreur toe hulle geskiet is. Drie slagoffers tussen 30 en 50 is noodlottig gewond, terwyl die ander twee se skietwonde in ‘n hospitaal versorg word.
Die motief vir die aanval is tans nog onbekend en die polisie volg alle leidrade op.
’n Saak van moord, met drie aanklagte, en poging tot moord, twee aanklagte, word deur die polisie ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





