Meisie vir ‘vals aanmelding van verkragting en ontvoering’ gearresteer

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

KWAZULU-NATAL. – ’n 18-jarige het Maandag op aanklagte van meineed en regsverydeling in die Verulam-landdroshof verskyn. Sy is deur GKS-speurders gearresteer, nadat sy glo op 2 Mei ‘n vals saak van verkragting en ontvoering by die Verulam-polisiekantoor aangemeld het.

Kol. Robert Netshiunda sê die “slagoffer” het aan die polisie gesê dat sy saam met vriende by ’n partytjie in Waterloo was toe een van haar vriende ’n e-hailing-voertuig gereël het. Instede daarvan dat hulle huis toe geneem is, het die bestuurder hulle glo eerder na Durban geneem. Sy het verder beweer dat sy toe gedwing is om ’n pakkie met onbekende inhoud aan ’n persoon in ‘n ander voertuig te oorhandig en dat die insittendes van daardie voertuig haar na ’n klub in Claremont geneem het waar sy aangerand, gedwing is om dwelms te gebruik en deur verskeie mans verkrag is.

Die polisie het sake van verkragting en ontvoering geopen en’n ondersoek geloods om die verdagtes op te spoor. Die ondersoek het egter aan die lig gebring dat die “slagoffer” oor die verkragting gelieg het. Sy het later erken dat sy leuens vertel het omdat sy bang was vir haar ma en dat sy haarself nie in die gemeenskap tot skande wou maak nie.

Die vrou is in hegtenis geneem en aangekla. Sy het Maandag in die Verulam-landdroshof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiekommissaris, het ’n waarskuwing gerig aan persone wat vals sake aanmeld. “As polisie doen ons alles in ons vermoë om ’n einde te maak aan geslagsgebaseerde geweld en alle vorme van misdaad teen vroue en kinders. Ons kan dit nie bekostig dat vroue denkbeeldige sake aanmeld vir hul eie gewin nie. Baie mans kon op grond van leuens in hegtenis geneem en aangehou gewees het en dit kon siviele eise teen die polisie tot gevolg hê. Die aanmelding van vals sake is ’n vermorsing van die polisie se menslike en fisiese hulpbronne en enigiemand wat dit doen, sal ooreenkomstig vervolg word.”

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief