GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die SAPD, het vanoggend (Vrydag 23 Mei 2025) die misdaadsyfers vir die vierde kwartaal van die 2024/25-boekjaar bekendgemaak. Misdaadstatistieke toon ’n afwaartse tendens oor die afgelope drie kwartale, maar geweldsmisdade soos moord en verkragting bly hoog, met 5 727 moorde en 10 688 verkragtings aangemeld.
Genl. Fannie Masemola sê: “Ons volgehoue hoëdigtheidsoperasies deur Operasie Shanela toon positiewe resultate, hoewel die misdaadsyfers steeds kommerwekkend hoog is.”
Volgens die jongste statistieke het moord met 12% gedaal (teenoor 9% in kwartaal 3), poging tot moord met 5.8% (teenoor 3.3% in kwartaal 3) en triomisdade met 12.1% (teenoor 13.4% in kwartaal 3). Verkragting het egter met 0.3% toegeneem, terwyl seksuele oortredings oor die algemeen met 0.0% gestyg het.
Masemola sê die SAPD fokus op operasionele versterking en ’n “hele regering en hele samelewing”-benadering, veral met betrekking tot geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF). In April is ’n 90-dae kommunikasieprogram aangekondig om misdade teen vroue en kinders aan te spreek. Dr. Polly Boshielo, die adjunkminister van die polisie, lei tans ’n program teen geslagsgebaseerde geweld in Thohoyandou, een van die fokusareas vir seksuele misdade.
Operasie Shanela, wat in Mei 2023 van stapel gestuur is, het tot dusver tot die inhegtenisneming van meer as 1.2 miljoen verdagtes gelei. Die SAPD beklemtoon dat hulle voortgaan om die wet toe te pas en misdaad in samewerking met ander staatsdepartemente en gemeenskappe te beveg.
Lees meer oor die vrygestelde statisieke hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





