VSA. – Justin Baldoni het sy dagvaarding teen Taylor Swift onttrek, wat haar sou dwing om in die saak tussen hom en Blake Lively te getuig.
Lees ook: Taylor Swift moet getuig in saak van Blake Lively en Justin Baldoni
Swift is vroeër die maand deur Baldoni se prokureurs gedagvaar om in die saak te getuig oor boodskappe waarin sy glo genoem is en waarin beweer is sy was by vergaderings oor die film It Ends with US. Baldoni se regspan wou ook ’n brief laat aanvaar wat glo deur ’n anonieme bron oorhandig is, waarin Lively na bewering gedreig het om boodskappe tussen haar en Swift vry te stel as sy haar nie in die openbaar ondersteun nie. Lively se prokureurs het die brief as “vals” bestempel. Regter Lewis J. Liman het die brief van die rekord geskrap en gesê dit is “onbehoorlik” en “het geen relevansie tot die saak nie”.
Swift se regspan het gesê sy was nie betrokke by die film nie en het dit weke na die opening eers gesien omdat sy getoer het en dat haar enigste betrokkenheid by die film was om toestemming te gee dat een van haar liedjies gebruik mag word.
Lively se woordvoerder het bevestig die dagvaarding teen Swift is onttrek en het gesê hulle is “bly” dat Baldoni se regspan die “teisterende dagvaardings teen Taylor Swift en haar regspan onttrek het”.
Bronne: PEOPLE, ABC News, Entertainment Weekly
Lees ook: Taylor Swift moet getuig in saak van Blake Lively en Justin Baldoni





