WES-KAAP. – ‘n Meisie (10) is Saterdag in George as vermis aangemeld en is die volgende dag opgespoor. Sy en nog ‘n meisie is glo deur ‘n man ontvoer, waarna een van hulle in ‘n oop veld verkrag is. Die verdagte (42) is Sondagoggend in hegtenis geneem.
Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder van die Tuinroete, sê ‘n voorlopige ondersoek dui aan dat die twee minderjarige meisies van Conville langs Yorkstraat, naby die George-begraafplaas gestap het toe die man hulle na bewering genader en oorreed het om saam met hom na ‘n winkel te gaan. Die meisies is na ’n oop veld naby die R102, ook bekend as die Lughawepad, geneem waar die tienjarige meisie moontlik verkrag is. Die ander meisie het daarin geslaag om te ontsnap en het haar familie van die voorval in kennis gestel. ’n Soektog na die meisie is met die betrokkenheid van verskeie gemeenskapsveiligheidstrukture en plaaslike veiligheidsmaatskappye geloods. Ná ‘n deurnag-soektog is die meisie Sondagoggend in Syferfontein, naby Pacaltsdorp, by die verdagte opgespoor. Die verdagte is op aanklagte van ontvoering en verkragting in hegtenis geneem. Die slagoffer is vir mediese versorging na ‘n fasiliteit geneem.
Spies bevestig George se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade (GKS) ondersoek die saak.
“Die verdagte bly in polisiebewaring en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is. Verdere aanklagte kan bygevoeg word soos die ondersoek vorder,” het Spies gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





