KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ’n vermeende rower is Sondagmiddag deur sy pa in ’n gevorderde stadium van ontbinding in ’n bos in Cornubia, noord van Durban, gevind.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die pa ghet die eenheid gebe om bystand te vra. Volgens die pa was sy seun vir ongeveer ’n maand lank vermis. Die oorledene was glo bekend daarvoor dat hy voetgangers langs die R102 tussen Mt. Edgecombe en Phoenix beroof het. Op die dag van sy seun se verdwyning het sy pa inligting gekry dat hy na bewering in ‘n rooftog betrokke was. Daar word ook beweer die slagoffer van die rooftog en ‘n groep mans het die oorledene en sy medepligtige agternagesit, waartydens een van die mans in hul rigting geskiet het. Die oorledene het die bosse in gevlug, terwyl sy medepligtige glo vasgetrek en aangerand is voordat hulle hom vrygelaat het.
Die familie van die oorledene het sedertdien na hom gesoek. Hulle het vermoed dat hy doodgeskiet is terwyl hy gevlug het, maar dit kon nie onmiddellik bevestig word nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected].





