Anthonie Bougas se paspoort nog in SA, hy in Thailand – Bolhuis

Lees ook :

Anthonie Bougas

Anthonie Bougas is nié met sy Suid-Afrikaanse paspoort uit Suid-Afrika nie. Hy is besig om oop en bloot in die media te erkén hy reis onwettig rond.

Só sê Mike Bolhuis, spesialis-ondersoeker van Specialised Security Services (SSS) nadat Bougas nóg ‘n video aan Netwerk 24 gestuur het waarin hy beweer hy is in Kanada. Die jongste video wys Bougas se arm, met ‘n tatoeëermerk, Kanadese dollars en ‘n wit papier waarop staan: “Ons is in Kanada.”

Sosiale media-gebruikers het gesê ‘n “Liewe Heksie-episode in 1979 is beter gedoen”; ‘n ander het kwytgeraak Bougas is ‘n “klein narcis”.

Bougas inkrimineer homself

Bolhuis stem saam. “Ons kon almal identifiseer wat betrokke is en hy inkrimineer homself net al hoe verder. Die ergste is dat hy dit alles met gesteelde geld doen. Kliënte se geld. In sommige rame kan jy selfs sien hoe een beeld oor ’n ander geplaas is – dis wat ‘n mens ’n ‘overlay’ noem. Wat hy dus doen, is om ’n vooraf-opgeneemde beeld van homself te neem en dit oor ’n ander video te sit, sodat dit lyk of hy regtig daar is. Hy probeer ‘n illusie skep.” Hy wat Bolhuis is, is “lus vir die man,” beaam hy.

“Onveilig” om sy gesig te wys

Bolhuis sê Bougas het in ’n vorige reaksie aan die media gesê hy is bang om sy gesig op video te wys, omdat dit glo nie veilig is vir hom nie. “Waarvoor is hy bang? Wat gaan nou gebeur as hy sy gesig of sy arm met ’n tatoeëermerk in ’n video wys? As hy eerlik was en regtig dinge wou regstel, sou hy nie in Thailand of Kanada gesit het nie, hy sou in Suid-Afrika gewees het. In plaas daarvan om met die media te praat en verskonings te maak, sou hy hof toe gegaan en sy saak daar gestel het.”

Net span al hoe nouer

Bolhuis sê die net span al hoe nouer om Bougas. “In gevalle soos dié werk ons nie op wat iemand sê nie, maar op wat die bewyse sê. En in hierdie stadium wys al die bewyse dat hy in Thailand is en dat hy geen voorneme het om terug te keer om verantwoording te doen nie. Die polisie-ondersoeke vorder goed. Ons behoort binnekort lasbriewe te hê en ons gaan definitief Interpol betrek. Die siviele sake, sowel as die likwidasieprosesse, vorder goed. Almal is besig. Ons werk saam met alle moontlike owerhede en hoop om die Valke binnekort ook in te trek.”

LEES OOK: Anthonie Bougas ‘wanted person’ – Mike Bolhuis

Bolhuis sê volgens die Suid-Afrikaanse grenspos is Bougas nog in Suid-Afrika. “Wat dit in leke-terme beteken, is dat hy moontlik met ‘n vervalste paspoort landuit gevlug het. Vals dokumentasie is dwarsoor die wêreld ’n misdaad. Dis in alle lande beskikbaar by misdaadinstansies. Paspoorte, visums. Die ouens vermom hulleself en Bougas inkrimineer homself deur sy uitlatings.”

Digitale voetspore volg jou oral

Bolhuis sê daar is verskeie vorige gevalle van mense wat dieselfde as Bougas probeer het. “Hulle word altyd gevang. Tegnologie lieg nie. Digitale voetspore lieg nie. Daar bestaan nie iets soos anoniem nie. Mense is onder ‘n wanindruk. Digitaal word jy áltyd gevolg en jy gee jouself weg, al besef jy dit nie. Ek dink nie hy besef dit nie, want hy is ‘n selfvoldane, onnosele, bederfde brokkie.”

Verder inkrimineer hy net al hoe verder sy familie en ouers, sê Bolhuis. “Hy praat telkemale oor sy familie en sodoende is hulle by die storie ingesleep.”

Sal moet kontak breek met hele wye wêreld

Al hoe Bougas regtig anoniem en weggesteek kan bly, is as hy op ‘n eiland met geen tegnologie of kontak met die buitewêreld op sy eie gaan woon. “Elke keer wat hy met iemand kommunikeer, is hy besig om sy digitale voetspoor uit te brei. Elke keer wat hy êrens inteken of ‘n nuwe SIM-kaart gebruik, is hy besig om die net rondom homself al hoe nouer te span. En dit geld ook vir elke mens wat met hom kommunikeer en hom help.”

Bolhuis sê die polisie-ondersoeke vorder goed. “Ons behoort binnekort lasbriewe te hê en ons gaan definitief Interpol betrek. Die sake loop hul gang. Die siviele sake, sowel as die sekwestrasie- en likwidasieprosesse, vorder goed. Almal is besig. Ons werk saam met alle moontlike owerhede en hoop om die Valke binnekort ook in te trek.”

Bougas is verlede week amptelik deur die Pretoriase Hooggeregshof gesekwestreer.

Anthony Boucher, die hoof van die kubermisdaadeenheid by SSS, is die hoof- ondersoekbeampte in die Bougas-ondersoek. Alle inligting wat aan die SSS gegee word, word vertroulik gehanteer.

Lees meer oor die ondersoek hier en kontak SSS hier.

Nuusflits se vrae aan Anthonie is teen die tyd van publikasie nog nie beantwoord nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief