OOS-KAAP. – Nceba Maji (44), wat van sameswering om moord te pleeg, moord en poging tot moord ná ’n noodlottige skietvoorval op 1 Mei in Walmer, Gqeberha, aangekla is, se aansoek om borgtog is suksesvol deur die NVG teengestaan. Hy word beskuldig dat hy die aanval beplan is waarin Lusanda Thunywashe (40) en Hailie-Jade Coboza (19) vermoor is.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Sibulele Mzilikazi (28) en Siyabonga Ntswahlana (35), Maji se twee medebeskuldigdes, het hulle borgtogaansoeke laat vaar.
Asavela Dweba, die staatsaanklaer, het tydens die borgtogverhoor aangevoer die aanval was vooraf beplan en hou verband met ‘n dispuut oor die taxibedryf. Daar word beweer Maji het met huurmoordenaars saamgesweer om ‘n mededingende taxi-operateur te vermoor, maar dat dié se vrou en dogter per abuis die slagoffers was.
Dweba het betoog dat Maji ‘n vlugrisiko inhou, gegewe die erns van die aanklagte en die moontlikheid van ‘n lang gevangenisstraf by skuldigbevinding. Sy het verder aangevoer dat die saak teen Maji sterk is, met dwingende getuienis wat forensiese bevindings, ooggetuieverklarings, video-opnames, ‘n bekentenis, omstandigheidsgetuienis en fisieke bewyse insluit. Die staat het ook aangevoer dat dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om borgtog toe te staan nie en dat die beskuldigde ’n risiko vir openbare veiligheid en potensiële getuies inhou.
Maji sal saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn wanneer die saak op 30 Julie hervat word.
Die NVG het die hof se beslissing verwelkom en gesê dat hierdie suksesvolle teenkanting die gesag se verbintenis tot die beskerming van kwesbare slagoffers en die handhawing van die reg beklemtoon, veral in gevalle wat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord behels.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





