ATLANTA, VSA. – Adriana Smith, die breindood vrou van Atlanta wat aan die lewe gehou is oor ’n anti-aborsiewet, se baba is deur ’n keisersnee gebore.
Lees ook: Breindood vrou word lewend gehou oor anti-aborsiewet
Smith is sedert 19 Februarie medies lewendig gehou nadat sy breindood verklaar is weens bloedklonte in haar brein. Sy is in Februarie dokter toe oor erge hoofpyn, maar is huis toe gestuur sonder dat toetse uitgevoer is. Haar kêrel het gesê sy het die volgende dag gesukkel om asem te haal en is weer hospitaal toe, waar die bloedklonte ontdek is. Dokters wou ’n operasie uitvoer om die druk op haar brein te verlig, maar dit was te laat en sy is breindood verklaar.
Onder ‘n Georgia-wet, wat bepaal dat ‘n aborsie nie toegelaat word sodra ‘n fetus se hartklop waarneembaar is nie, is sy lewendig gehou om die fetus te red. Die baba is verlede week deur ’n keisersnee gebore, waarna Smith se lewensondersteuning gister afgesit is. Adriana Smith se seun (7) het geglo sy ma slaap net tydens sy besoeke aan haar.
Smith se ma het voorheen gesê die baba kan moontlik blind wees, sal moontlik verlam wees en gaan moontlik nie lank leef nie.
Bronne: The Independent, PEOPLE, Daily Mail
Lees ook: Breindood vrou word lewend gehou oor anti-aborsiewet





