KWAZULU-NATAL. – Ayanda Snothi Zwane (35) is deur die Ezakheni-streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op sy seun (6) op die aand van 17 Junie 2024. Zwane het die slapende kind se kop teen ‘n klip geslaan, waarna hy gesterf het.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Zwane het op die betrokke aand met die kind se ma gestry terwyl die kind geslaap het. Nadat hy die vrou uit die erf gejaag het, het hy die slapende seun na buite gedra en sy kop teen ‘n klip wat bokant die grond uitgesteek het, geslaan. Die seun is aan ‘n kopfraktuur met ernstige breinbesering dood. Zwane is ná die voorval in hegtenis geneem.
Amelia Lieketseng Mphomane, die staatsaanklaer, het die kind se ma, wat die voorval aanskou het, asook ‘n fotograaf en die geneesheer wat die lykskouing uitgevoer het, se getuienis gelei. Sy het die hof met verswarende omstandighede versoek om nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie, aangesien die misdaad die hele familie getraumatiseer het. Benewens die lewenslange vonnis is Zwane ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die NVG het die vonnis verwelkom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





