GAUTENG. – Twee verdagtes is binne 12 uur in hegtenis geneem ná ‘n bejaarde vrou (81) Dinsdag omstreeks 10:00 vermoor in haar huis in Pretoria-Moot aangetref is.
Kapt. Johan van Dyk, distrikspolisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits polisiebeamptes het bystand by die bejaarde se woning verleen. ‘n Vrou van ‘n plaaslike NRO wat die bejaarde, wat alleen gewoon het, met wasgoed en kos bygestaan het, het ‘n onbekende vrou by die woning aangetref, wat beweer het die inwoner is siek en het medikasie geneem. Die NRO-werker het die voorval by die veiligheidsbeampte aangemeld, wat op sy beurt ‘n welstandsbesoek van die polisie versoek het.
Die polisie het die huis deur die oop agterdeur betree, waarna dit deursoek is en daar gevind is dat dit geplunder is. Bloedvlekke is in die slaapkamer aangetref. Die liggaam van die bejaarde vrou is in die badkamer gevind. Haar liggaam was gedeeltelik onder water en bloed was sigbaar. Sy is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.
Speurders het vinnig ‘n beskrywing van ‘n moontlike verdagte bekom en informante geaktiveer. Teen 21:30 Dinsadagaand is ‘n vrou en haar kêrel deur speurders in ‘n straat daar naby opgespoor. Verskeie van die oorledene se besittings is by hulle gevind en albei is op aanklag van moord in hegtenis geneem. Verdere gesteelde items wat verkoop is, is later op verskeie plekke teruggevind.
Genl.maj. Samuel Thine het die ondersoekspan vir hul vinnige en toegewyde optrede geprys.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





