OOS-KAAP. – ‘n Verdagte (24) wat glo vir die dood van drie vroue, tussen 20 en 97 jaar, verantwoordelik is, is in hegtenis geneem. Die vroue is Maandagoggend omstreeks 06:00 met ‘n mes naby Flagstaff doodgesteek. ‘n 20-jarige vrou was die suster van die verdagte en die 50-jarige vrou sy ma. ’n Manlike slagoffer het die aanval oorleef en is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die suster en die ma het aan messteekwonde beswyk. Daarna is die verdagte na ’n nabygeleë erf waar hy ’n 97-jarige vrou, vermoedelik die ma van sy eie ma se kêrel, met ’n mes doodgesteek het. Hy het ook ’n 47-jarige man, glo sy ma se kêrel, met ’n mes gesteek. Die manlike slagoffer het die voorval oorleef en is tans in ’n kritieke maar stabiele toestand in ‘n hospitaal.
Flagstaff-polisie het die verdagte met die hulp van die gemeenskap in die omgewing in hegtenis geneem en die moordwapen by hom gekry. Die verdagte sal binnekort in die landdroshof in Flagstaff verskyn.
Die motief vir die moorde is onbekend en vorm deel van ’n voortgesette ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





