Sluipmoordenaar kry 25 jaar tronkstraf

Lees ook :

Foto: NVG

KWAZULU-NATAL. – Die sluipmoordenaar Sibusiso Ncengwa (37) is Maandag vir die moord op Sindiso Jethro Magaqa, ‘n ANC-raadslid, deur die Pietermaritzburg-hooggeregshof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Magaqa was ‘n voormalige sekretaris-generaal van die ANC Jeugliga.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits volgens genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, is Ncengwa op 11 aanklagte skuldig bevind wat met Magaqa se moord op 13 Julie 2017 verband hou. Magaqa was aan die Umzimkhulu- plaaslike munisipaliteit verbonde. Twee ander raadslede is tydens dieselfde voorval geskiet, maar het oorleef.

Die polisie se taakspan vir politieke moorde het die ondersoek in Julie 2018 oorgeneem. Ncengwa is reeds in Augustus 2018 in hegtenis geneem, waarna nog ses verdagtes in Desember 2018 vasgetrek is. Drie ander beskuldigdes was sedertdien in aanhouding. Een is ongeskik verklaar om tereg te staan en is in ’n psigiatriese inrigting opgeneem. Die verhoor van die twee beskuldigdes wat wel tereg kan staan, sal tussen 19 September en 21 Oktober in die Pietermaritzburg-hooggeregshof voortgesit word. Die ondersoek duur voort.

Ncengwa is soos volg op aanklagte skuldig bevind:

  • Aanklag 1: Sameswering om moord te pleeg – 25 jaar
  • Aanklag 2: Moord – 25 jaar
  • Aanklag 3–5: Poging tot moord – elk 5 jaar
  • Aanklag 6–8: Opsetlike beskadiging van eiendom – elk 3 jaar
  • Aanklag 9: Onwettige besit van ’n vol-outomatiese vuurwapen – 5 jaar
  • Aanklag 10: Onwettige besit van vuurwapens – 5 jaar
  • Aanklag 11: Onwettige besit van ammunisie – 1 jaar

Aanklagtes 1 en 3 tot 11 sal gelyklopend met aanklag 2 uitgedien word, wat beteken Ncengwa sal effektief tronkstraf van 25 jaar uitdien.

Natasha Ramkisson-Kara, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Ncengwa het op 6 Junie 2025 ingevolge Artikel 220 van die Strafproseswet erkennings in die hof gemaak en erken dat hy Magaqa geskiet het. Hy het ook skuld erken aan poging tot moord op Jabulile Msiya, Nonsikelelo Mafa en Nceba Mazongolo, sowel as opsetlike beskadiging van eiendom, insluitend die voertuie van Magaqa en ander. Verder het hy skuld beken op twee aanklagte van onwettige vuurwapenbesit en die onwettige besit van ammunisie. Ncengwa het ook besonderhede gegee van die gebeure wat tot Magaqa se dood gelei het en sy interaksies met sy medebeskuldigdes, Sbonelo Myeza, Mlungisi Ncalane en Mbulelo Mpofana. Hy het ook die name van beweerde aanstigters of meesterbreine agter Magaqa se dood bekend gemaak. Hierdie erkennings het ’n pleit van skuld uitgemaak en hy is dienooreenkomstig skuldig bevind.

Elvis Gcweka het tydens vonnisverswaring slagoffer-impakverklarings aan die hof oorhandig, die een van Magaqa se broer en ’n ander van ’n lid van die ANC in KwaZulu-Natal. Volgens Magaqa se broer het Sindiso ‘n belangrike rol in die gemeenskap gespeel deur onder meer ’n sokkerspan vir die jeug op die been te bring. Hy was ook die broodwinner van die gesin. Die ANC in die provinsie het in hul verklaring aangedui dat Magaqa se dood ’n verlies vir die organisasie is.

Adv. Elaine Harrison, die direkteur van openbare vervolging in KZN, het die suksesvolle afhandeling van die saak verwelkom en die samewerking met die politieke moordtaakspan geprys.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief