NOORD-KAAP. – Collin Mhlanga (29) van Zimbabwië is deur die Kimberley-streekhof tot 13 jaar direkte tronkstraf vir strafbare manslag, versuim om bystand ná ‘n ongeluk te verleen en oortreding van die immigrasiewet gevonnis nadat Omphile Jonas (16), Mi-Kayla Booysen (23), en Wessem Matthews (20) op 30 Junie 2024 in Lerato Park, Roodepan, gesterf het.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Mhlanga het gedrink en daarna ’n wit Navara-bakkie met twee passasiers by ’n plaaslike sokkerveld bestuur. By die Homelite-kruising het hy Omphile, wat die pad probeer oorsteek het, getref. Hy het nie gestop om hulp te verleen nie, het oor ’n stopteken gejaag en twee rooi verkeersligte geïgnoreer. Kort daarna het hy in Barklyweg met ’n stilstaande minibustaxi gebots waarin Mi-Kayla en Wessem gesit het. Albei is later in die hospitaal aan hul beserings oorlede.
Mothelesi Katlego Thothela, die staatsaanklaer, het tydens die verhoor vyf staatsgetuies gelei, insluitend een van Mhlanga se passasiers. Die getuienis het ’n duidelike prentjie van roekelose gedrag geskets. Die hof het bevind dat Mhlanga met growwe nalatigheid opgetree het en dat sy optrede direk tot die dood van drie mense gelei het. Sy weergawe is as onwaar en teenstrydig verwerp.
In verswarende omstandighede het die staat slagoffer-impakverklarings voorgelê. Mi-Kayla se pa, ’n paramedikus, het getuig van sy vergeefse poging om sy dogter op die toneel te red. Omphile se ma en Wessem se broer het ook die trauma en blywende pyn van hul gesinne beskryf. Die staat het aangevoer dat slegs ’n direkte gevangenisstraf die erns van die misdryf en die impak op die families kan weerspieël. Die hof het hiermee saamgestem en beveel dat Mhlanga gedeporteer moet word nadat hy sy vonnis uitgedien het, aangesien hy onwettig in die land was.
Mhlanga is as volg gevonnis: op aanklag 1 – strafbare manslag (Omphile Jonas) – tot 5 jaar, op aanklag 2 – strafbare manslag (Mi-Kayla Booysen) – tot 7 jaar (2 jaar opgeskort), op aanklag 3 – strafbare manslag (Wessem Matthews) – tot 7 jaar (2 jaar opgeskort), op aanklag 5 – versuim om bystand te verleen – tot 3 jaar en op aanklag 6 – oortreding van die immigrasiewet -R600 boete of 4 maande tronkstraf. Die vonnisse op aanklagte 2 en 3 sal gelyklopend uitgedien word.
Die totale effektiewe vonnis is 13 jaar direkte gevangenisstraf.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





