MPUMALANGA. – Die liggaam van ’n vermeende renosterstroper is Saterdag omstreeks 08:30 in die Krugerwildtuin gevind. Daar word vermoed dat hy Vrydagaand omstreeks 21:00 tydens ‘n skietery met veldwagters doodgeskiet is.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens ’n verslag was drie veldwagters Vrydagaand in die Nwari-blok op patrollie toe hulle glo op drie vermeende stropers afgekom het. Hulle het nie gehoor gegee aan ‘n bevel om te stop nie en het op die veldwagters geskiet, wat teruggeskiet het. Die verdagtes het die donkerte ingevlug en weens swak sigbaarheid het die veldwagters die soektog laat vaar en na die kamp teruggekeer.
Die soektog is die volgende oggend voortgesit. Terwyl veldwagters die omliggende gebiede gepatrolleer het, het hulle in die Laer Sabie-gebied op die liggaam van ’n man met ’n skietwond afgekom. Daar was ook ’n rugsak langs hom.
Die Skukuza-polisie sowel as ander rolspelers is onmiddellik in kennis gestel. Die man is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
“In die rugsak is twee renosterhorings gevind,” het lt.kol. Jabu Ndubane bevestig.
’n Ondersoek is van stapel gestuur. Die oorledene is nog nie geïdentifiseer nie en die ander twee vermeende stropers is steeds op vrye voet.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





