WES-KAAP. – Ruben Bezuidenhout, ‘n gr. 10-leerling van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het Vrydag in ‘n motorongeluk in die Vrystaat gesterf. Omstandighede van die ongeluk is nie bekend gemaak nie.
Die skool het Bezuidenhout se afsterwe op sy amptelike Facebook-blad bekend gemaak en meegevoel met sy naasbestandes betuig. Ruben laat sy ouers, Riaan en Benita, asook Wian, sy broer in gr. 9, agter.
Grant Riddles, die uitvoerende Hessequa-burgemeester, sê in ‘n sosialemediaplasing: “’n Hartseer groet aan ’n jong bul. Dit is met diepe hartseer dat ons kennis neem van die afsterwe van Ruben Bezuidenhout, ’n graad 10-leerling van Hoër Landbouskool Oakdale, wat tragies in ’n motorongeluk in die Vrystaat oorlede is. As burgemeester wil ek namens die Hessequa-munisipaliteit en die Hessequa-gemeenskap ons innige meegevoel betuig aan sy ouers, Riaan en Benita, sy broer Wian, asook die res van die familie. Mag julle vertroosting vind in mekaar, en in die wete dat julle nie alleen treur nie, God is met julle. Ons dink ook aan die hele Oakdale-familie, elke leerder, opvoeder en ouer – die verlies van ’n jong lewe tref ’n gemeenskap diep. Mag julle almal krag ontvang om deur hierdie rouproses te gaan. Mag Ruben se nagedagtenis vir altyd voortleef in die harte van dié wat hom liefgehad het. Ons hou julle in ons gebede en harte vas in hierdie donker tyd. “Die Here is naby die gebrokenes van hart; Hy red die wat vertrap is van gees.” – Psalm 34:19





