GAUTENG. – ’n Konstabel van Wierdabrug-polisiekantoor en ’n senior advokaat van die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria is Vrydag op aanklagte van afpersing deur die Valke in hegtenis geneem.
Lt.kol. Christopher Singo, polisiewoordvoerder, sê die klag het ontstaan uit die siviele geskil tussen die klaer, ’n direkteur van ’n steenkoolmyn in Ermelo, Mpumalanga, met ’n ander maatskappy rakende steenkool ter waarde van R1 750 000 wat in 2023 gemyn is het, maar nie deur die ander maatskappy afgehaal is nie. Die ander maatskappy het daarop ’n terugbetaling van die bedrag geëis, wat die klaer geweier het.
Gedurende Februarie 2024 is die klaer deur die polisiebeampte gekontak wat hom meegedeel het dat daar ’n strafregtelike klag van bedrog teen hom aanhangig gemaak is. Die klaer het die polisiebeampte en die senior advokaat by die Wierdabrug-polisiekantoor ontmoet, waar hy in hegtenis geneem is. Tydens sy aanhouding is hy na ’n kantoor geneem waar die senior advokaat glo in die teenwoordigheid van die klaer se prokureur aangedui het dat die klaer ’n “aansporing” aan die betrokke maatskappy moet bied om die geskil op te los. Die klaer het toe, uit vrees vir verdere aanhouding, ’n bedrag van R1 500 000 aangebied, ten spyte van sy prokureur se standpunt dat dit ’n siviele saak is. Verder word beweer dat die advokaat voorgestel het dat die bedrag tot R1 600 000 verhoog word “sodat almal gelukkig kan wees.” Die klaer is aangehou totdat die ander maatskappy die bedrag bevestig het, waarna hy vrygelaat is.
Tussen Januarie en Augustus 2024 was die klaer ook in ‘n aparte siviele geding in die Mpumalanga-hooggeregshof oor ’n eis van R17 miljoen betrokke. In dié tyd het die konstabel hom glo weer gekontak met inligting oor ’n tweede strafregtelike ondersoek teen sy maatskappy. Die klaer het toe vermoedens begin koester oor die polisiebeampte en die advokaat se optrede. Die saak is vir verdere ondersoek by die Valke aangemeld. ’n Operasie is beplan om die verdagtes in hegtenis te neem, maar op die dag van die beplande arrestasie is bevind dat die klaer op 3 September 2024 deur die verdagtes by Wierdabrug-polisiekantoor in hegtenis geneem is.
Die klaer het op 4 September 2024 in die Pretoria- gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn met dieselfde senior advokaat as aanklaer. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek vir sewe dae uitgestel. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die advokaat die normale toewysingsproses van sake omseil het en die saakdossier aan homself toegewys het. Daar was geen prima facie-bewyse teen die klaer nie. Die direkteur is dus onwettig in hegtenis geneem en na die hof geneem. Alle aanklagte teen hom is later teruggetrek.
Die verdagtes sal op Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn.





