OOS-KAAP. – Maria Jordaan (38) is deur die streekhof op Willowmore lewenslank tronk toe gestuur nadat sy haar kêrel, Koos Noble (48), in Oktober 2024 op die plaas Witkopskuil vermoor het. Jordaan se vorige kêrel het in 2011 tydens ‘n huishoudelike voorval aan haar hand gesterf.
Luidens ‘n verklaring deur Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, het ’n argument tussen die paartjie ontstaan, waartydens Noble glo na Jordaan se vorige moordsaak verwys het en gesê het: “Jy’s ’n moordenaar, jy wil my ook doodmaak.” Jordaan het toe ’n mes gevat en hom noodlottig in die nek gesteek. Die plaas se eienaar het die voorval by die polisie aangemeld, waarna Jordaan haarself onmiddellik oorgegee het.
Jordaan is in 2011 aan moord skuldig bevind nadat haar vorige kêrel in ’n soortgelyke huishoudelike voorval dood is. Sy is toe 15 jaar gevangenisstraf opgelê en het ongeveer tien jaar uitgedien voordat die appèlhof die vonnis tersyde gestel het.
Adv. Temba Mathew Mavakala, die staatsaanklaer, het aangevoer dat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan wat ’n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf regverdig nie. Hy het die huishoudelike aard van die misdaad sowel as Jordaan se vorige veroordeling beklemtoon. Die hof het ook ’n slagofferimpakverklaring van Noble se familie oorweeg, waarin hul emosionele en finansiële verlies uiteengesit is. Die hof het met die vervolging saamgestem en lewenslange tronkstraf opgelê. Jordaan is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging, het die uitspraak verwelkom.





