GAUTENG. – Die polisie het Maandagaand op altesaam 30 onwettige 9 mm-pistole in Meyersdal, Johannesburg, beslag gelê wat onderweg na die Wes-Kaap was. Twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 45 jaar oud, is in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n groot deurbraak is tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie deur die polisie se teen-ontvoeringspan gemaak met ‘n sindikaat wat onwettige vuurwapens smokkel. Met inligting wat oor dae oor provinsiale grense heen ingesamel is, kon twee verdagtes geïdentifiseer word wat met die verskuiwing van die onwettige vuurwapens betrokke was.
Die span het tot aksie oorgegaan en die operasie takties afgehandel toe die verdagtes die vuurwapens oplaai. Verdere ondersoek het bevestig dat die vuurwapens vir die Wes-Kaap bestem was en dat die verdagtes beplan het om dit self te vervoer.
Die verdagtes, wat met verskeie sake in Gauteng en die Wes-Kaap verbind word, is in aanhouding en word deur verskeie aanklagte in die gesig gestaar, insluitend die onwettige besit en smokkel van vuurwapens. Ondersoeke duur voort om meer lede van hierdie onwettige vuurwapensmokkelnetwerk op te spoor.
Die opeasie is deur onder meer SAPD-misdaadintelligensie, die Gauteng- provinsiale ondersoekeenheid (PIU), JHB K9, JMPD en privaat veiligheidsdienste uitgevoer.





